Visie: Vrygemaak om Voluit te Lewe
Ons is passievol om kinders te begelei om vry te wees van sonde en emosionele bagasie, sodat hulle volgens hul volle potensiaal wat God vir hulle beplan het, kan leef. Dit doen ons deur ‘n kombinasie van Bybelonderrig en spelterapie, wat nie net geestelike groei bevorder nie, maar ook emosionele genesing en vryheid bring.
Wat is vir ons belangrik?
Verhouding Bou:
Ons glo in die waarde van verhouding. Ons bou nie net geestelike beginsels nie, maar ook sterk, liefdevolle bande met die kinders.
Saam Doen:
Saam met die kinders wil ons eenheid bevorder en deur gesamentlike aktiwiteite die beginsels van gemeenskap en samewerking leer.
Luister na Hul Stories:
Deur na die kinders se stories te luister, kry ons die geleentheid om in hul lewens in te spreek en hulle geestelik te lei.
2025 Program: Ontdek Wie God Is
Ons begin vanjaar met ‘n program wat die vraag beantwoord: “Wie is God?” wat gebaseer is op die gesprek tussen Moses en God, waar God hom met “Ek is” antwoord op sy vraag wie moet ek sê het my gestuur.
Gedurende die jaar sal ons elke karaktereienskap van God op ‘n eenvoudige en praktiese manier verduidelik. Dit help kinders nie net om meer van God te leer nie, maar ook om sy teenwoordigheid in hulle eie lewens te ervaar.
Betrek Ouers in die Reis
Omdat ons glo dat die gesin die eerste plek van leer is, wil ons graag ons ouers betrek. Elke kind sal elke tweede week ‘n boekie ontvang, opgedeel in 7 dagstukkies, wat gesinne help om op ‘n eenvoudige manier oor God met hul kinders te gesels. Ons het ook ‘n spesiale storie, “Felix Leef Voluit!”, wat elke waarheid wat ons leer, op ‘n herhalende en maklik verstaanbare manier deur die storie oordra.
Ons nooi jou uit om jou kinders te bring en deel te wees van hierdie wonderlike reis. Ons is hier om hulle te lei en te ondersteun, en om saam met jou as gesin die God van die Bybel te ontdek en te ervaar.