Ons glo in:
God
In een God wat ewiglik bestaan in drie Persone – Vader, Seun en Heilige Gees. God openbaar Homself aan ons, nie net as die Skepper van die heelal nie, maar ook as ‘n liefdevolle Vader.
Jesus is verwek deur die Heilige Gees, gebore uit die Maagd Maria, en is waarlik God en waarlik mens.As God is die Heilige Gees gelyk in Wese met die Vader en die Seun. Hy oortuig die wêreld van sonde, geregtigheid en oordeel. Hy bewoon, lei en bemagtig elke gelowige.
Die Bybel
Dat beide die Ou en Nuwe Testamente van die Bybel deur God geïnspireer is en daarom betroubaar en gesaghebbend is in alle sake van geloof en lewe.
Mensdom
Dat die mensdom, manlik en vroulik, geskape is na die beeld van God met gevolglike waardigheid, ware vryheid en gedelegeerde outoriteit. As gevolg van die sondeval is die beeld van God in die mensdom geskend, maar nie algeheel vernietig nie. Alle mense het ‘n sondige natuur en het daarom verlossing nodig.
Die Koninkryk van God
Dat God die ganse mensdom lief het en met vaste voorneme beoog het om hierdie gebroke wêreld te verlos. In die uitvoering van Sy verlossingsplan het Hy Sy koninkryk op aarde gevestig. By die voleinding van die menslike geskiedenis sal Sy koninkryk universeel erken word.
Die Here Jesus Christus
Dat die Here Jesus Christus die beloofde Messias van Israel en die Verlosser van die hele wêreld is. Hy het `n sondelose lewe geleef. Hy het gesterf as versoening vir ons sonde, is begrawe en het op die derde dag weer opgestaan uit die dood. Hy het opgevaar na die hemel. Hy is die enigste Middelaar tussen God en die mensdom. Hy sal Persoonlik in heerlikheid en outoriteit na hierdie aarde terugkeer.
Verlossing
Dat verlossing vir alle mense beskikbaar is deur die verlossingswerk van die Here Jesus Christus. Verlossing as ‘n geskenk van God word verkry deur geloof alleen. Elkeen wat in Hom glo, word deur die werking van die Heilige Gees wedergebore en sodoende ook ‘n kind van God.
Die Kerk
Dat die een, ware kerk bestaan uit die volle gemeenskap van gelowiges wat deur Jesus Christus verlos is en deur die Heilige Gees nuut gemaak is. Alle gelowiges in Jesus Christus is geestelik verenig tot een geestelike liggaam en is geroep om daardie eenheid binne die Liggaam van Christus te handhaaf. As konkrete voorstelling van die universele kerk, is die plaaslike gemeente `n samekoms van diegene wat bely dat Jesus Christus hul persoonlike Verlosser en Here is.
Die Sakramente
Dat die Here Jesus Christus twee sakramente – die doop en die nagmaal- ingestel het om te getuig aangaande die kern feite van die Christelike geloof en lewe.
Die doop is ‘n belydenis van vereenselwiging met Christus in Sy dood, begrafnis en opstanding.
Die nagmaal is die gebruik van brood en wyn as simbole van ons Verlosser se gebroke liggaam en bloed. Elke keer wat ons dit gebruik, herroep en verkondig ons Sy kruisdood as soenoffer totdat Hy eendag weer terug sal kom.
Godsdiensvryheid
Dat daar geen dwang of verpligting in sake godsdiens beoefening behoort te wees nie. Alhoewel alle aansprake op “die waarheid” nie gelyke gewig dra nie, erken ons Godsdiensvryheid as ‘n basiese mensereg. ‘n Inherente deel van hierdie reg is die reg om jou geloof te mag verklaar.
Die Finale Oordeel
In die opstanding van alle mense, die ewige lewe van dié wat verlos is en die ewige verdoemenis van hulle wat die verlossing wat in Christus beskikbaar is, verwerp het.
Ons glo dat God regverdig én genadig is en alle mense volgens Sy volmaakte wysheid sal oordeel.